Laat Ons Voortgaan

Dit gebeur dikwels dat wanneer ek ‘n staptog aanpak, ek by ‘n punt kom waar ek voel dat ek nie meer kan aangaan nie. Ek wil dan net daar uitspan, of selfs terugdraai. Dit gebeur veral wanneer die pad te steil, of te lank raak en dit vir my voel asof die einde net te ver en buite my bereik is.

Ook in die geestelike lewe kom daar tye wat ons mismoedig, moeg en gefrustreerd raak en die pad byster raak. Ons voel dan net nie meer daartoe in staat om aan te gaan nie. Die versoeking is dan oorweldigend om net te gaan sit om te rus, of selfs om terug te draai. Jy sal onthou dat dit ‘n gevoel is wat die kinders van Israel dikwels in die woestyn ervaar het. Na die Kruis het selfs Petrus besluit om terug te gaan om weer te gaan visvang. Ons almal raak op die een of ander stadium ontmoedig en moedeloos. Is die neerslagtigheid nie baie duidelik uit Paulus se woorde wanneer hy skryf: “Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat...”(2 Tim 1:15)? Ek is seker dat Elia ‘n klasieke voorbeeld van moedeloosheid is – dit reg nadat hy vuur en reën vanuit die hemel afgebid het (1 Kon 19:3-10).

Dit kom vir my voor asof selfs Jesus ‘n paar keer moedeloos geword het. Onthou jy hoe Hy by die graf van Lasarus geween het? Dit was nie omdat Hy oor Lasarus getreur het nie. Nee, Sy trane het geval oor die ongeloof van die mense daar by die graf. Hy het verseker ook hartseer en frustrasie ervaar omdat Jerusalem voortdurend God se versoek tot ‘n verhouding met Hom afgewys het, en eerder verkies het om die profete dood te maak (Mat 23:30). Toe ‘n hele skare mense omgedraai, hulle rug op Hom gedraai het en weggeloop het van Sy prediking, het Hy na die Twaalf gedraai en vir hulle gevra: “Wil julle nie ook weggaan nie?” (Joh. 6:67). Ek het geen twyfel dat Hy op daardie oomblik die pyn van mislukking en moedeloosheid ervaar het nie.

Om moedeloos te raak is nie sonde nie. Dit is egter hoe ons die moedeloosheid hanteer wat bepaal of ons die oorwinning gaan behaal en of ons nederlaag gaan ly.

Die eerste ding wat ons moet doen as ons ontmoedig word of moedeloos voel, is om bestek opname te doen van al die keuses tot ons beskikking. Hierdie keuses is dan ook basies beperk tot die opsies van omdraai, stop of voortgaan. Dit blyk dat die opsie vir Israel altyd geval het op die keuse om terug te draai Egipte toe. Selfs toe hulle op die grense van die beloofde land gestaan het, het hulle dit steeds oorweeg om terug te gaan na hulle voormalige slawemeesters. Maar om terug te gaan na ‘n lewe van gebondenheid aan sonde, met al die leegheid en doelloosheid wat daarmee saamgaan, kan doodeenvoudig net nie ‘n goeie keuse wees nie. Elkeen wat eerlik is met homself sal moet erken dat, maak nie saak hoe moeilik die pad, dit is nog altyd beter as die lewe van ‘n slaaf van die sonde. As ons terugdraai moet ons nie net saamleef met die bande en doelloosheid van ‘n lewe sonder hoop nie, maar ons moet dan ook vrede maak met die wete dat ons eens ‘n beter lewe gehad het wat ons weggegooi het vir die tydelike genot van ‘n lewe in sonde.

Jesus het gesê: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk 9:62). In Hebreërs 10:38-39 lees ons: “‘En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.’ Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.” Laat ons Lot se vrou onthou – sy het teruggekyk en in ‘n soutpilaar verander. Laat ons dan nou die besluit neem dat dit doodeenvoudig nie ‘n opsie is om terug te draai na ons voormalige doellose bestaan en lewe nie.

‘n Meer aanvaarbare en eerbare opsie blyk te wees om net maar uit die wedren te tree en langs die pad te gaan sit. Ek sien mense wat voortdurend hierdie keuse maak. Aanvanklik begin hulle om net af en toe uit te sit uit die samekoms van die gemeente, totdat hulle gewete gewoond raak daaraan om eerder TV te kyk as om kerk toe te gaan. Dan word hulle afwesigheid so uitgerek dat hulle weer te skuldig voel om terug te gaan. Uit die aard van die saak raak hulle tye van Bybellees en bid al hoe meer sporadies, totdat hulle heeltemal daarmee ophou. Niemand bly van die eerste samekoms van die gemeente weg met die bedoeling dat hy gaan “terugval” nie. Die argument is altyd dieselfde: ‘Ek het ‘n breek vir net ‘n kort rukkie nodig.’ En die gevolge is altyd dieselfde – permanente afwesigheid uit die huis van die Here en Sy teenwoordigheid!

Om dus ‘n ruskansie te geniet vanuit die diens van die Here, selfs net vir ‘n minuut, is gevolglik ook nie ‘n opsie nie. Die oomblik wat ons ophou om voorwaarts te beur na die doel van ons roeping, begin ons om terug te val. Om stil te staan het altyd agteruitgang tot gevolg. Om te staan, lei tot sit, sit lei tot slaap en slaap lei tot die dood. Ons moet aanhou om vorentoe te beweeg as ons geestelik lewendig wil bly. Die probleem is dat daar te veel is wat mislei word om te glo dat dit nie ‘n probleem is, of selfs gevaarlik is, om stil te staan nie. Maar dit is en dit is die ergste ding wat jy kan doen.

Miga se waarskuwing destyds aan Juda, is steeds vandag vir ons van toepassing: “Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig…”(Miga 2:10 OAV). Daar is geen plek in hierdie wêreld waar ons kan rus nie. Die wêreld is met sonde besmet en besoedel en sal enigeen vernietig wat probeer om dit sy tuiste te maak. Ons enigste hoop is om aan te hou om voorwaarts te beweeg sodat ons die besmetting van hierdie wêreld kan vrykom (2 Pet 2:20).

Die Bybel stel nie die weg na die oorwinning voor as ‘n rusbank, bed of plesierreis nie. Nee dit word eerder uitgebeeld as ‘n wedren, ‘n stryd en ‘n verbystap. Die enigste manier hoe ons daar sal kom is om die besluit te neem dat ons geen ander opsie het as om aan die beweeg te bly nie, maak nie saak hoe seer of moeg ons is nie. Die probleem is dat daar min is wat tot die besef gekom het dat hulle geen ander opsie het nie. Toe die skare omgedraai en van Jesus weggegaan het en Hy van die Twaalf wou weet of hulle nie ook wil gaan nie, het Petrus geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee”(Joh. 6:68). My vriend, daar is geen ander keuse nie, Jesus is die enigste wat die woorde het wat die ewige lewe gee. Hoekom besluit jy nie opnuut vandag: Laat ons “…na die volmaaktheid voortgaan” (Heb 6:1 OAV)?

Kan ek by jou aandring om op te staan en hierdie woorde saam met Paulus te sê: “.. maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil. 3:12-14).